Albuquerque, Nieu-Meksiko

City of Albuquerque


Ballooning Capital of the World


Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
 Deelstaat Nieu-Meksiko
 County Bernalillo
 Koördinate 35°06′N 106°36′W / 35.100°N 106.600°W / 35.100; -106.600
 Stigting 1706
 Geïnkorporeer op 1891
 Oppervlakte:  
 - Totaal 469,5 vk km
 Hoogte bo seevlak 1 619,1 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2011) 552 804
 - Bevolkingsdigtheid 3 010,7/vk km
 - Metropolitaanse gebied 898 642
 Tydsone MST (UTC -7)
 Somertyd MDT (UTC -6)
 Burgemeester Timothy M. Keller
 Amptelike Webwerf cabq.gov

Albuquerque (/ælbəkɜrkiː/) is die grootse stedelike nedersetting in die VSA-deelstaat Nieu-Meksiko met 'n bevolking van meer as 'n halfmiljoen. Bewoners word in Engels Burqueños genoem. Die stad dien as administratiewe setel van die Bernalillo County.

Lugaansig van die Rio Grande

Gemeenskappe van Pueblo-Indiane, wat die stapelkos van die Amerikaanse Suidweste - mielie, bone en pampoene - verbou het, was die eerste bewoners van die Rio Grande-vallei. Omstreeks 1500 is die eerste koloniale Spaanse nedersettings naby Santa Fe gevestig. Die Villa de Albuquerque is in 1706 deur Spaanse setlaars as 'n landboukolonie in die Rio Grande-vallei gestig. Die wonings van hierdie vroeë inwoners het rondom 'n sentrale plein, die Plaza, ontstaan wat vandag die middelpunt van Albuquerque se toeristebuurt vorm. Elke huishouding het landbougrond langs besproeiingskanale bewerk waar groentes, insluitende tradisionele gewasse soos mielie en bone, meloene en druiwe verbou is.

Teen die middel van die 19de eeu het die Spaanse koloniale gemeenskap in aanraking met die eerste Anglo-Amerikaanse handelaars, setlaars en militêre eenhede gekom. Die aankoms van die Santa Fe-spoorlyn in 1881 het ekonomiese groei bevorder, en Albuquerque se middestad is grootliks uitgebrei met die bou van kroeë, restaurante, bakkerye en stoorhuise vir goedere langs die spoorlyn. Die stad se groeiende klein- en groothandelbedryf het landelike gemeenskappe in heel Nieu-Meksiko bedien. Dit was veral Italiaanse immigrante wat ondernemings in hierdie bedrywe gevestig en Italiaanse verwerkte, geblikte en gedroogde kosse, insluitende pasta, saamgebring het.

Die bekende hotel- en restauranteienaar Fred Harvey (1835−1901) het toerismebedrywighede in die Amerikaanse Suidweste 'n groot hupstoot gegee met die vestiging van sy Harvey House-ketting van hotelle, restaurante en aandenkingwinkels langs die groot spoorlyne van die Amerikaanse Weste. In 1902 het die mees elegante van sy spoorweghotelle, die Alvarado, genoem na die 16de eeuse Spaanse conquistador en luitenant Hernando de Alvarado, sy deure vlakby Albuquerque se treindepot geopen. Die hotel, wat 'n belangrike rol in Albuquerque se politieke en kulturele lewe sou speel, het uiteindelik 'n slagoffer van stedelike hernuwing geword. In 1970 het die destydse eienaar, die Santa Fe-spoorwegmaatskappy, besluit om die historiese gebou af te breek. Die Alvarado moes plek maak vir 'n parkeerterrein.[1]

In die jare ná Nieu-Meksiko se toelating tot die Unie as 47ste deelstaat in 1912 is die Amerikaanse padnetwerk steeds verder uitgebrei en het motorvervoer vir die middelklas bekostigbaar geword. So het ook Albuquerque steeds meer motortoeriste gelok. Die befaamde grootpad Route 66 se roete is in 1937 gewysig om in rigting van Albuquerque se middestad te draai. Langs Central Avenue het motelle, restaurante en aandenkingswinkels in die argitektoniese style van die Amerikaanse Suidweste ontstaan.[2]

Die mees onlangse toeristestormloop was aan 'n televisiereeks te danke - alhoewel die plaaslike toerismekantoor allesbehalwe gaande daaroor was. Die reeks Breaking Bad het wél in Albuquerque, maar dan in 'n wêreld van dwelmmisbruik, geweld en misdaad afgespeel - en so was dit veral kitskosrestaurante, beskeie terrashuise, bakkies en woestyntonele waarmee televisiegehore en filmtoeriste, wat deur die toerisme-slagspreuk It's a trip na Nieu-Meksiko gelok is, Albuquerque verbind het.[3][4]

Met meer as 300 sonskyndae per jaar en 'n eie rolprentateljee, die Albuquerque Studios, het die stad tot 'n rolprentmekka uit eie reg ontwikkel - rede genoeg vir die dagblad Los Angeles Times om aan Albuquerque die bynaam Hollywood in the high desert te gee.[5]

  1. Santa Fe New Mexican, 26 September 2014: Trail Dust: Once grand Alvarado Hotel now a fading memory. Besoek op 25 Maart 2020
  2. Andrew F. Smith (red.): The Oxford Encyclopedia of Food and Drink in America. Vol. I. Second edition. New York NY: Oxford University Press 2012, bl. 50
  3. The Guardian, 11 Augustus 2013: The Breaking Bad tours driving a tourist boom in Albuquerque. Besoek op 29 Maart 2020
  4. The Guardian, 28 September 2013: Albuquerque: The good, the bad and the ugly as fans take a trip to Breaking Bad lands. Besoek op 29 Maart 2020
  5. Los Angeles Times, 27 Julie 2013: Albuquerque is Hollywood in the high desert. Besoek op 29 Maart 2020

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search